Beste Barend en die res van die BBRU bestuur,
As 'n ander span ons op die dag wen deur 'n twyfelagtige strafskop wat enige kant toe kon gaan, en dit in 'n wegwedstryd, dan vat 'n mens dit op die kinnebak. Ons eie dissipline het ons in die steek gelaat en met 'n bietjie meer afronding het ons gewen, wat 'n baie groot wen sou gewees het. Maar, dit is nie te erg nie, ek is nie bekommerd nie, hierdie nuwe span gaan nog 'n grote word, dit glo en hoop ek. E is opgewonde oor die afrigters en spelers, bou voort, sommer Saterdag weer.
Wat 'n getroue blou bul ondersteuner egter nie kan vat nie, is dat ons ons eie naam met ons eie geld en eie borge tottie maak voor die hele wêreld, en dit alles vrywilliglik ook. As hier nie kinders was wat hier gelees het nie, sou ek gesê het: ons draai pienkagtig om, om 'geviolate' te word met die pienk trui gedagte. Maar ek sal dit nie hardop sê nie.
Het julle gesien hoe skaam kry ons eie spelers vir daardie vieslike pienk trui, ja dit is vieslik laat iemand dit nou maar reguit sê, 'ban' my maar as julle wil. Hoe kan julle ons jong seuns, die helde van jong kannetjies so verneder en dit nogal voor ons aartsvyande hier in SA ?
Ek kon dit in die spelers se oë sien toe hul in daardie pajamas moes uitdraf, hulle kry skaam, maar moet maar dra want die base sê so. Dit is soos om in 'n aandpak die gala swemkompetisie te wil gaan wen.
Ek wil nie raas nie, ek wil nie baklei nie, maar ek vra regtig mooi: verander daardie trui so gou as moontlik, dit is ons trotse unie en span nie waardig nie. Julle as bestuur het al sulke skitterende besluite geneem, goeie spelers gekoop, die Soweto finaal in 2010, goeie afrigters gekry, ens ens., maar, die pienk trui gedagte gaan NOOIT maar nooit werk nie, al wen ons 10 supertitels, pienk gaan nie werk nie. Ons maak almal foute in die lewe, spelers maak foute, skeidsregters maak foute, en ... bestuurspanne en direkteurs en borge maak foute, dit vat 'n man .. dit vat 'n ware BUL om sy foute te erken, reg te maak en voort te gaan.
So ek vra mooi asb - en ek dink ek spreek namens baie ander getroue bulle ondersteuners - verander asb die trui, nou onmiddelik, praat met die borge, en as dit vir julle nou 'n geld saak is, sal ons as ondersteuners met graagte bydra en help om ons span in ordentlike blou/wit weg rugbytruie te wil sien, soos dit pas by die spel. Ons het klaar - omdat ons die beste rugbyunie in die wêreld is - genoeg teenstand van die res van die wêreld, ons het nie nog nodig om onsself vrywillig uit te gee vir 'n toffie om gekou te word nie, om gespot te word nie, veral nie oorsee waar dit baie moeiliker is om te wen nie.
Hoop my brief bereik die bestuur, en dat ek dit goed bedoel. Asb, ons wil nie 'n 'Red die BLOU Bul campaign' begin nie !
BLOU bul groete
BendieBul
Posted by bendiebul on 02 April 2012 15:48