Die Vodacom Blou Bulle het Saterdag op Nuweland ten spyte van twee geelkaarte en lynstaanspel wat nie aldag klopdisselboom was nie daarin geslaag om die WP 26-17 te klop.
Die span van Pretoria was rustyd reeds 6-3 voor maar weens 'n hele aantal van die bal af insidente en 'n voortdurende geruk-en-pluk kon hulle nie werklik enige momentum opbou sodat hulle die Kapenaars sommer vroeg-vroeg kon bêre nie.
Ná sowat 'n halfuur se spel het die skeidsregter besluit genoeg is genoeg en toe stuur hy die Bulle se kaptein Johan Wasserman vir tien minute na die koelkas omrede hy 'n opponent "laat en gevaarlik" geloop het.
In dié tien minute kon die tuisspan egter nie punte aanteken nie en mens het die gevoel gekry die Bulle het 'n reuse sielkundige oorwinning oor die WP behaal.
Die span van Pote Human het met Wassie op die kantlyn soos tiere verdedig en alles in die stryd gewerp om die WP van hul doellyn te hou. Hulle het dit reggekry en ses minute ná die spanpraatjie het Morné Steyn die Bulle se voorsprong na 9-3 gerek.
Die Bulle kon eers in die 61ste minuut hul eerste drie druk, maar dit was 'n drie wat veral die afrigters breed sal laat glimlag.
Die Bulle het 'n skrum op die WP se doellyn gekry en voor die tuisspan hul oë kon knip het die losvoorspelers 'n losgemaal direk langs die skrum gevorm. Uiteindelik het die haker Derick Kuün die dryfmaalbeweging afgerond om 16-3 voor te loop
Ná Kuün se drie het Luke Watson-hulle egter nie gaan lê nie en hyself sowel as losskakel Peter Grant het elk gedruk om in die wedstryd te bly.
Met so vier minute se spel oor was die telling 19-17 in die Bulle se guns toe Trompie Nontshinga oorduik vir die Bulle se tweede drie nadat hy 'n WP-aangee wat verlore gegaan het opgeraap het.
Met sy twee skepdoele, twee doelskoppe, twee strafdoele, sy stewige verdediging en die feit dat hy die voordeellyn so mooi aanval deur 'n meter of twee reguit te hardloop voor hy die bal uitgee verdien Morné Steyn sekerlik die Man van die Wedstryd-toekenning.
Aan sy buitekant het JP Nel weereens vrees by die teenstanders met sy plettervatte ingeboesem en 'n man soos Wayne Julies speel vanjaar nog elke keer baie goed wanneer hy kans kry. Johan Roets was soos altyd rotsvas in die laaste vesting.
Voorlangs was Rayno Gerber en Jaco Engels twee groot menere en Hottie Louw speel as flank die veld vol.
Vir die Kapenaars het die verlore Bok Conrad Jantjes lus gelyk vir hardloop en in die lynstane het Selborne Boome saam met Ross Skeate geskitter.