Daar word gereëld gewag gemaak van die Vodacom Blou Bulle se diepte, maar mense sou vergewe word as hul gedink het dat Fourie du Preez se betrokkenheid by die Springbokspan sou ‘n leemte laat.
Dit sou egter net diegene wees wat nog nie van Heinie Adams kennis geneem het nie.
Adams het vroeër vanjaar wel speeltyd gekry in die Super 12, maar dit is eers in die Curriebeker waar hy homself in die beginspan bevind het en sy kans met altwee arms aangegryp het. Adams is een van die kleinste spelers in die Curriebeker-kompetisie, maar hy staan sy voete dubbel en dwars vol.
“Ek is bly oor die game time wat ek nou kry,” sê Adams, wat glo dat die groter blootstelling ook sal lei tot verbeterde vertonings op die veld. “Ek is nog nie heeltemal gelukkig met my spelpeil nie, maar dit sal in die komende weke optel.”
Adams beskou die afrigting by die Blou Bulle as een van die redes vir die puik spel wat hy deesdae lewer. “Veral die individuele afrigting kry jy nie by ander unies nie,” sê Adams. “Hier word jy vaardighede aangeleer wat spesifiek is tot jou posisie. Ek glo egter dat alle aspekte van my spel nog kan verbeter.”
Dié knaap, wat op Esselen Park Hoër in die Boland skoolgegaan het, het vanjaar veral die oog gevang as ‘n man wat vlymskerp deur die kleinste gapings kan sny en hy beskou sy vermoë om ‘n gaping op die regte tyd te neem as een van sy beste eienskappe as speler.
Adams lyk so tuis op skrumskakel dat dit moeilik is om te glo dat hy eers in die hoërskool dié posisionele skuif gemaak het. Voorheen was hy ‘n losskakel, wat sy goeie skopwerk verduidelik.
Heinie is ‘n familievaste mens wat sy sukses toeskryf aan die invloed van sy hele gesin, asook sy meisie, Lynn.
Met die Curriebeker in volle swang, en spelers soos Heinie Adams wat op al hul suiers vuur, lyk dit of die koppie nog ‘n jaar in Pretoria sal bly, selfs sonder die hulp van die Bokke.