As jy in Menlyn of Brooklyn rondstap en twee groot kêrels sien wat effens verlore lyk, stap nader en verwelkom hulle in Blou Bul-land, want die kanse is goed dat dit die Vodacom Blou Bulle se twee nuwe voorspelers, Rayno Gerber en Hottie Louw, is.
Gerber is 'n sterk vaskopstut wat oorspronklik van die Oos-Kaap afkomstig is. Hy het vir die Cheetahs gespeel voor hy weg is uit Suid-Afrika om vir Leeds in Engeland te gaan speel, waar hy die skrum geanker het saam met die gewese Bul-yster Kees Lensing.
Louw is natuurlik welbekend in Suid-Afrika en veral die Kaap. Hy is 'n gewese Springbok-, Stormers en WP-slot wat die laaste paar seisoene klubrugby in Frankryk (saam met Breyton Paulse vir Clermont Auvergne) en Wallis (vir Llanelli Scarlets) gespeel het.
Hy het 'n kontrak by die Bulle gekry en het kort voor die begin van die Curriebeker-seisoen in Pretoria aangekom. Louw sal broodnodige diepte op slot verseker, met Victor Matfield, Bakkies Botha en Danie Rossouw wat heel moontlik vir die Bokke sal uitdraf. Saam met Francois van Schouwenburg, Adriaan Fondse, Cliff Milton en Wilhelm Steenkamp sal die Bulle nie op slot sukkel nie, en Louw se ervaring kan handig te pas kom, omdat drie van dié slotte nog redelik jonk is.
Die 25-jarige Gerber is baie opgewonde oor sy skuif Pretoria toe. Hy deel 'n huis met nog 'n gewese Vrystater, Gurthrö Steenkamp. Ironies genoeg was die twee van hulle in 2004 op die Cheetahs se bank toe die Bulle op Loftus die Curriebeker-eindstryd gewen het.
"Dis baie lekker hier. Ek woon nog saam met Gurthrö, maar is hard op soek na my eie plekkie," sê Gerber.
"Dis lekker om 'n paar wedstryde te begin en hopelik sal dinge aanhou om goed te gaan, want ek sal baie graag aanstaande jaar in die Super14 wil speel."
Louw deel ook nog met een van sy spanmaats, die klipharde senter Dries Scholtz.
"Met al die rondbeweeg in die laaste paar jaar het ek nou meubels op drie verskillende plekke. Ek soek 'n gemeubileerde plekkie," vertel Louw, 30, wat soos Derick Hougaard en Stefan Basson aan die Boland Landbouskool buite Wellington gematrikuleer het.
"Ek het na Suid-Afrika teruggekeer om mee te ding om 'n plek in die Springbokspan en ek glo dat die enigste manier om dit te doen, is om in die Curriebeker te speel. Ek sien uit na 'n lekker seisoen saam met die Bulle en sal nie omgee om nog 'n wennersmedalje by my versameling van twee te voeg nie. Ek het hulle saam met die WP gewen in 2000 en 2001."
Hougaard en Basson onthou hom, maar Louw was 'n paar jaar voor hulle op skool.
Louw, wat in 2002 onder Rudolf Straeuli in drie toetse vir die Bokke gespeel het, sê hy wil eerstens net weer sy rugby onder die Suid-Afrikaanse sonnetjie geniet voor hy weer daaraan dink om Bok te word. Nie dat hy nee dankie sal sê nie.
"Die Super14 is ook 'n groot trekpleister. Ek het dié reeks nog altyd baie geniet," sê Louw.
Gerber hoop ook om sy plek vas te messel aan die regterkant van die Bul-voorry. Met Andries Human wat onlangs teruggetrek het Kaap toe, is dié oudleerling van die Hoërskool Framesby een van slegs 'n handvol vaskoppe in die Bulle se groep.
Hopelik kan dié twee nog 'n lang paadjie saam met die Bulle stap. Een ding is vir seker - hulle pas baie goed in. Die Bulle is bekend vir hul harde voorspelers, en Rayno en Hottie is beslis nie softies nie.