Mense wat in Kirknessstraat agter Loftus Versfeld se hoofpawiljoen verbyry, sou 'n gewoel en gewerskaf opgemerk het op die hoek van Lynnwoodweg, daar waar die Bloekombome altyd langs die B-veld gestaan het.
Dié gebouery is alles deel van die plan om Loftus selfs nog meer wêreldklas te maak. Daar kom 'n gimnasium met 'n swembad vir die spelers, 'n Vodashop en 'n restaurant/kuierplek, waar menige Bul-seges seker nog gevier gaan word.
Daar was onlangs nog aksie aan die ander kant van die buitevelde, langs die D-veld, waar 'n akademie gebou is vir 'n klomp van die Bulle se jonger spelers.
Tot 26 spelers kan in die huis, met sy 13 dubbelkamers bly. Dis gerieflik en net 'n klipgooi vanaf Loftus. Die meeste van die inwoners van die akademie het voorheen by Tuks se HPC gebly, manne soos Chiliboy Ralepelle, Danwel Demas en Emile Verster.
Dis soos 'n koshuis, maar elke kamer het sy eie badkamer, so niemand hoef in 'n ry te staan vir 'n stort nie.
Die akademie het ook 'n groot sit/eetkamer met 'n oopplan kombuis, waar die manne vir hulself ietsie aanmekaar kan slaan indien hulle wil. Dit sal egter nie nodig wees nie, want hulle kry deur die dag kos by Loftus, so daar sal moontlik nie te veel cuisine-maaltye hier voorberei word nie.
Die ouens sal heel moontlik meer gebruik maak van die braai-area langs die huis. Soos hulle sê, 'n man bly 'n man.